Swapo-lede vra ondersoek na Shaningwa

Die distrikskoördineerder van die Swapo-party op Grootfontein, John Haimbodi het ‘n brief aan President Hage Geingob gerig en gevra dat daar ‘n ondersoek gelas word na die party se sekretaris-generaal Sophia Shaningwa. Haimbodi beweer daar is dalk ‘n konflik van belange wanneer dit by Grootfontein en sy omliggende gebiede kom. Shaningwa het volgens Haimbodi, opdrag gegee dat die party se uitvoerende komitee vir die distrik onveranderd moet bly en toe het die komitee besluit om ‘n verkiesing te hou. Haimbodi sê daar is bewyse dat Shaningwa en die Otjozondjupa-streekskoördineerder Susana Hikopua beide belange het in die streek en gebied en dus, inmeng met die party se bedrywighede. Die Presidensie het bevestig dat Geingob wel die brief ontvang het en Shaningwa het volgens berigte ook gesê sy verwelkom enige ondersoek.