Swak reën in Kunene-opvangsgebied maak Namibië kwesbaar

Terwyl daar vloedbulletins uitgereik word vir die Okavango- en Zambezi-riviere, is die vlakke van die Kunene uiters laag, sedert die begin van verlede jaar. Daar word min reën in die rivier se opvangsgebied ontvang. Volgens Namibië se hidrologiese diens, vloei die rivier rondom ‘n skamele 51 kubieke meter per sekonde. Dit lê die kapasiteit van die Ruacana hidroëlektriese-aanleg om krag op te wek, lam. Ruacana se vier turbines kan 330-megawatt opwek as die rivier sterk vloei rondom 300 tot 500 kubieke meter per sekonde. Namibië se kragopwekking vermoë het volgens die Namibiese Statistieke-agentskap in Julie verlede jaar met 69,2 persent geval as gevolg van Ruacana se vermoë wat met amper 86 persent gedaal het. Die hidrologiese diens se grafieke toon dieselfde lae vlak van vloei vir die hele 2021, sowel as tot op hede, vanjaar. Dit maak Namibië kwesbaar en afhanklik op die invoer van elektrisiteit.