Suide-boere kwalifiseer vir EU-uitvoere

Die Namibiese Landbou-unie sê na gesprekke met die Direktoraat van Veeartsenydienste is daar bevestig dat boere teen die grens met Suid-Afrika wel kwalifiseer vir uitvoere na die Europese-unie indien daar nie ’n uitbreking van bek-en-klouseer binne ’n radius van 10 kilometer vanaf hulle plase is nie en mits hierdie boere natuurlik ook voldoen aan die ander normale vereistes wat gestel word deur die EU. Dit kom na daar verlede week verwarring was of die veeprodusente kwalifiseer. Hierdie verwarring het ontstaan in die lig van Suid-Afrika se huidige bek-en-klouseer status. Alhoewel die Noord-Kaap en Wes-Kaap provinsies in Suid-Afrika, wat aangrensend teen Namibië lê, geen aangemelde bek-en-klouseer gevalle het nie, en al was hierdie provinsies geag as deel van die destydse siekte-vry area, het hulle ongelukkig hierdie status verloor.