Stadion is steeds NRU s’n
Terwyl daar vroeër die maand berig is dat die oordrag van die Hage Geingob-stadium na die sportministerie gevorderd is, toon die akte dat die Namibiese Rugby-unie steeds die wettige eienaar is, sedert 1993. Agnes Tjongarero, sportminister, het in ‘n onlangse onderhoud met plaaslike media onthul dat hulle in ‘n gevorderde stadium met die oorname is. Sy het bygevoeg die ministerie het voorheen uitstaande skuld van die unie betaal en dus, moet die stadion oorgedra word. Daar was ongeveer twee jaar gelede ‘n reël 108 aansoek vir die stadion deur Trip Travel wat ter elfder uur gekeer is. Die unie het meer as 2 miljoen Namibiese dollar in reiskostes geskuld. Dit is nie bekend wanneer die oordrag voltooi sal wees nie maar, die beplanning is om die stadion vir rugby te hou.