Stad Windhoek stel behuisingsprogram bekend

Die Stad Windhoek sal na verwagting agt huise ter waarde van 6,8 miljoen Namibiese dollar bou deur middel van sy program vir bekostigbare behuising. Sade Gawanas, burgemeester van Windhoek, het die behuisingsprogram tydens die sooispitseremonie van die bou van agt huise in Khomasdal bekend gestel. Die huise sal op die hoek van Visarend- en Florence Nightingalestraat in die Khomasdal-kiesafdeling gebou word. Gawanas sê die program vir bekostigbare behuising het ten doel om lae- en middel-inkomste-verdieners van Windhoek van bekostigbare huise te voorsien, met eerste-keer-kopers wat eerste op die stad se behuisingslys is. Die prysklas van die twee- en drie-slaapkamerhuise, wat na verwagting binne ses weke voltooi sal wees, is tussen 850 000 dollar vir die kleinste erf van 312 vierkante meter tot 1,2 miljoen dollar vir ‘n huis wat op ‘n 1 022 vierkante meter erf gebou is.