Stad Windhoek keur verkoop van N$21m-erf aan MVA-fonds goed

Stad Windhoek het die verkoop van ‘n erf van 21 miljoen Namibiese dollar in Katutura aan die Motorvoertuig-ongelukkefonds goedgekeur. Die fonds wil ‘n trauma- en rehabilitasiesentrum vestig. Daar is bepalings aan die transaksie verbonde en onder die voorwaardes is dat die fonds op eie koste die omliggende padnetwerk uitbrei en opgradeer. Sou die fonds nie daarin slaag om in 90 dae die transaksie te finaliseer nie, sal die toekenning van die erf teruggetrek word. Die fonds se uitvoerende hoof, Rosalia Martins-Hausiku, sê die sentrum se koste sal nie alleenlik deur die fonds gedra word nie en die sentrum sal nie deur hulle bestuur word nie. Daar is verskeie modelle wat voorgelê is deur middel van ‘n uitvoerbaarheidstudie wat ‘n paar jaar gelede voltooi is.