Stad Whk sal met grondloses vergader

Stad Windhoek sal vergader met ‘n komitee wat deur die groep grondgrypers, wat onlangs amok gemaak het in Otjomuise, saamgestel is. Die groep van ongeveer 300 persone, het verlede week ‘n petisie ingedien by die Stad waar hulle grond geëis het. Volgens Stad Windhoek is daar ongeveer 10 000 mense wat jaarliks na die hoofstad trek, veral op soek na werk. Die regering het tot dusver geen sukses met desentralisasie gehad nie en dorpe regoor die land loop dood. ‘n Werkswinkel sal volgens die Stad gehou word om die pad vorentoe te bepaal en die datum sal binnekort bevestig word. Stad Windhoek het in sy begroting 55 miljoen Namibiese dollar vir die formalisering van informele nedersettings aangekondig.