Staatsondernemings kelder GRN se finansies

Meer as 50 persent van kommersiële openbare ondernemings in Namibië het finansiële verliese in die afgelope boekjaar gely. Dit is volgens ‘n onlangse verslag van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing vir die vierde kwartaal van 2023. Die aanhoudende kwessie van fiskale druk op die land se finansies as gevolg van onderpresterende openbare ondernemings, is ‘n konstante bekommernis sedert die 1990’s, veral na die stigting van talle nuwe maatskappye in staatsbesit. Dit belemmer veral die regering se vermoë om besteding toe te pas op ontwikkeling en ander kritiese sektore.