SPYL vies oor Embraer-verkope, sê nuwe redery was belowe

Die Swapo Party-jeugliga sê hy is hartseer om te verneem dat vliegtuie wat aan die gelikwideerde nasionale lugredery Air Namibia behoort het, verkoop is. Volgens mediaberigte is twee Embraer-vliegtuie aan Wings Aviation verkoop. Die maatskappy waarin Wolfgang Grellmann, die Westair-groep se voorsitter en direkteur, en die groep se besturende direkteur, Gustav Holz, as direkteure dien, besit nou die twee vliegtuie. Dié transaksie kom midde beskuldigings dat die vliegtuie onderduims deur die bankrot lugredery se likwidateurs Dave Bruni en Ian McLaren verkoop is. Sekretaris van die Swapo-jeugliga Ephraim Nekongo sê aan Kosmos 94.1 Nuus dit kom nie as ‘n verrassing nie, maar daar was beloftes dat ‘n nuwe Namibiese lugredery gevestig sou word.

Nekongo sê die jeugliga moedig die likwidateurs aan om te verseker hulle vereffen die skuld wat aan die voormalige werknemers van Air Namibia verskuldig is.