Sputnik se gebruik opgeskort tot WGO-goedkeuring

Die Namibiese gesondheidsminsiterie het aangekondig dat die gebruik van die Russiese Sputnik-entstof met onmiddellike effek opgeskort word. Dit volg na die bevinding van die Suid-Afrikaanse medies owerheid, Sahpra, dat die gebruik van die entstof kan veroorsaak dat mans makliker MIV kan opdoen. Luidens ‘n verklaring deur die uitvoerende direkteur Ben Nangombe, sal die gebruik van die entstof eers hervat word wanneer dit goedgekeur is deur die Wêreldgesondheidsorganisasie. Die voormalige gesondheidsminister dr. Bernard Haufiku het vroeër aan Kosmos 94.1 Nuus gesê dat Namibiese owerhede traag is om hulle eie navorsing te doen en staatmaak op ander se bevindings. Die entstof is reeds ‘n geruime tyd in gebruik maar net 108 dosisse is tot dusver toegedien.