Sonder reën sal besproeiing in Maart by Hardap staak

Daar is groot kommer oor die stand van sake by die Hardapdam waarop talle produsente van die skema staatmaak. Op die oomblik is die dam op 18,9 persent van kapasiteit en boere het reeds hulle aanplantings gedoen. Mielies en lusern is belangrike gewasse vir die produsente en die !Aimab-melkplaas maak staat op die lusern vir hulle kudde. Sou daar geen reën in die opvangsgebied ontvang word nie sal alle besproeiing teen einde Maart moet staak wat rampspoedig sal wees vir die gebied. Op die oomblik is daar reeds water in die kuile en met min grondbeddekking is daar nie veel reën nodig vir die Visrivier om af te kom nie maar tot dusver bly die reën weg.