Sokker: Man United sal homself gou moet regruk

Sokker: Manchester United sal homself baie gou moet regruk na sy vernederende nederlaag van 7-0 Sondag teen Liverpool. Hulle is vanaand op Old Trafford die gasheer vir die Spaanse span, Real Betis, in die laaste 16 van die Europa-liga. United is tans derde in die Premierliga, 14 punte agter die voorlopers, Arsenal, en het verlede maand hulle eerste trofee in ses jaar ingepalm deur die Engelse Ligabeker te wen. Die bestuurder, Erik ten Hag, sê sy span moet lesse uit die nederlaag leer en aanbeweeg.