Sneeustorting eis toeriste in Himalajas

‘n Sneeustorting het die lewens van minstens sewe toeriste in Indië se Himalaja-staat Sikkim naby ‘n bergpas na die Chinese streek Tibet geëis. Volgens die Indiese weermag word gevrees nog verskeie mense is onder die sneeu vasgekeer. Die weermag het gesê daar word gevrees dat vyf tot ses voertuie wat tot 30 toeriste na die strategies geleë Nathu La-pas tussen Sikkim en Tibet vervoer het, onder die sneeu vasgesit het toe die sneeustorting getref het. Tot dusver is 17 mense gered, waarvan agt baie kritiek is en na ‘n hospitaal vervoer is.