Smollett gaan tronk toe, kry reuse-boete

‘n Hof in Chicago het die akteur Jussie Smollett, voormalige ster van die TV-drama Empire, tot 150 dae tronkstraf gevonnis omdat hy ‘n haatmisdaad teen homself opgemaak het. ‘n Jurie het in Desember verlede jaar die 39-jarige Smollett skuldig bevind aan vyf van die ses aanklagte van wanordelike gedrag wat hy in die gesig gestaar het, een vir elke keer dat hy vir die polisie gelieg het. Regter James Linn het Smollett ook beveel om meer as 120 000 Amerikaanse dollar in skadevergoeding te betaal en hom ‘n boete van 25 000 dollar opgelê. Smollet het einde Januarie 2019 vir polisie in Chicago gesê hy is aangeval en geslaan omdat hy swart, en gay is. Hy het vir die polisie gesê sy aanvallers het hom nie net aangerand nie maar ook rassistiese en homofobiese taal teen hom gebruik. Dit was natuurlik onwaar en hy het die voorval met twee kollegas gereël.