Smith-Howard se lastersaak weer in die hof vandag

Sifried //Garoëb dagvaar die voormalige IPC-voorsitter van die Erongo-streeksraad, Ciske Smith-Howard, vir skadevergoeding van 350 000 Namibiese dollar vir uitlatings wat sy aan die media gemaak het wat hy as lasterlik beskryf. Die tweede respondent in die saak is Namibia Media Holdings omdat Smith-Howard blykbaar die kommentaar aan sy Engelse dagblad Namibian Sun gemaak het. Hy sê Smith-Howard het aantygings gemaak dat hy in 2018 deur die Hentiesbaai-munisipaliteit afgedank is nadat hy blykbaar skuldig aan diefstal van die dorpsraad gevind is. Sy het volgens hom gesê hy kan nie as IPC-lid as hoof van ‘n instansie aangestel word waar hy gesteel het nie. //Garoëb het verskeie stukke ingedien waar hy sê hy bewys dat hy nooit skuldig bevind is nie, en nooit afgedank is nie. Hy sê hy is ‘n gekose lid van die dorpsraad en sy reputasie het baie skade gely. Smith-Howard verdedig. Die saak, wat deur regter Marlene Tommasi aangehoor word, kom vandag voor vir saakbeplanning.