Smith bedank uit akademie, stap beteken eintlik niks

Die akteur Will Smith het bedank uit Hollywood se Academy of Motion Picture Arts and Sciences. Hy sê sy gedrag by vanjaar se Oscar-seremonie was skokkend, pynlik en onverskoonbaar. In ‘n verklaring meen Smith hy het die vertroue van die akademie verraai.  Die stap beteken eintlik niks behalwe dat hy nie mag stem nie. Hy kan steeds genomineer word vir ‘n Oscar en ook weer wen. David Rubin, president van die akademie, sê die groep aanvaar Smith se bedanking maar sal voortgaan met dissiplinêre prosedures wat tot bykomende tugstappe kan lei.