Skoolseun (15) vir 24 wedstryde geskors na hy skeidsregters help aanrand

Die 15-jarige seun wat gehelp het om twee skeidsregters ná ‘n skole-rugbywedstryd in die Noord-Kaap aan te rand, is vir 24 wedstryde geskors – die swaarste straf in sy ouderdomsgroep. Die seun het die afgelope week skuld beken in ‘n virtuele tugverhoor van die Griekwaland-Wes Rugby-unie. Die klag spruit uit die aanval op Christo Kemp en Fires van Vuuren ná ‘n onder-15-wedstryd tussen die Hoërskool Kathu en Hoërskool Daniëlskuil op laasgenoemde se tuisveld. Nog ‘n leerling en ses volwassenes wat na bewering ook by die voorval betrokke was, is saam met die 15-jarige aangekla. Die ander beskuldigdes se regsverteenwoordigers het vir uitstel gevra sodat hulle vir die verhoor kan voorberei.