Shikongo sterk aan by die huis, ondersoek duur nog voort

Plaaslike berigte lui dat die hoof van Nampol, luitenant-generaal Joseph Shikongo uit die hospitaal ontslaan is en dat hy by die huis aansterk. Shikongo het blykbaar vier operasies ondergaan en 10 dae in die intensiewe sorgeenheid deurgebring na die noodlottige ongeluk op 30 Desember verlede jaar waarin drie mense, in die ander voertuig, dood is. Hy kom erg onder skoot vir die hantering van die ongeluk en daar is gerugte dat geen bloed by die toneel getrek is nie. Die Nampol-woordvoerder adjunk-kommissaris Kauna Shikwambi het onlangs bevestig dat die ondersoek na die ongeluk steeds aan die gang is maar, aktiviste en kritici, wat die leier van die amptelike PDM-opposisieparty, McHenry Venaani insluit, meen hy moet reeds met strafbare manslag aangekla gewees het, soos gebruiklik is.