Shifeta verdedig trofeejag in België

Die Namibiese omgewingsminister Pohamba Shifeta het in België by ‘n konferensie oor biodiversiteit en trofeejag ‘n toespraak gelewer oor of Afrika gehoor word in die verband. Verskeie lande en internasionale rederye het ’n verbod op die invoer en vervoer van jagtrofeë ingestel. Shifeta sê Afrika-lande het verskeie bewaringsbeleide maar Namibië het eienaarskap van wildlewe oorgedra aan die gemeenskappe wat met die wild saamleef. Die bewaringsaanslag word internasionaal geloof en het ook gelei tot stygende getalle van hoëwaarde spesies wat olifante, leeus en die swart renoster insluit. Volhoubare benutting van die diere vorm deel van die plaaslike bewaringsaanslag en is ook vervat in die Grondwet, nes bewaring van biodiversiteit. Twee-derdes van bewaringsgebiede het ook jagkontrakte in plek wat toelaat dat gemeenskappe nie net ‘n inkomste verdien nie, maar ook dat die diere waarde het en dus bewaar word.