Shifeta moet bewys wat op Etosha se paaie bestee is, hulle is onbegaanbaar

Die paaie in die Etosha Nasionale Park bly in die nuus. Die PDM se skaduminister van finansies Nico Smit, bevraagteken die omgewingsministerie se aankondiging dat hy sedert 2009 meer as 136 miljoen Namibiese dollar bestee het om die paaie by die Etosha Nasionale Park op te gradeer. Volgens Smit is alle paaie in die nasionale park in ‘n haglik toestand. Hy sê hy het onlangs Okaukuejo besoek en al die paaie om die kamp kan omtrent die gebruik word nie. Hy eis bewyse by minister Pohamba Shifeta dat die geld werklik bestee is waar dit toegewys is. Daar word gereeld op sosiale media platforms gekla oor die park se paaie en die Padfonds-administrasie het onlangs aangekondig dat uit die net meer as 4 miljard dollar wat in die huidige boekjaar vir padinfrastruktuur begroot is, sal 1,5 miljard dollar vir pad-instandhouding en rehabilitasie van paaie in Walvisbaai en die hergruis van paaie in die Etosha Nasionale Park benut word.