Sheinbaum eerste vroulike president
Claudia Sheinbaum is in ʼn geskiedkundige weghol-oorwinning verkies tot Mexiko se eerste vroulike president. Voorlopige uitslae toon die 61-jarige gewese burgemeester van Mexikostad het tussen 58- en 60-persent van die stemme in die verkiesing gekry. Dit gee haar ʼn voorsprong van byna 30 persentasiepunte bo haar grootste teenstander, die sakevrou Xóchitl Gálvez. Sheinbaum sal haar mentor, uitgaande president Andrés Manuel López Obrador, op 1 Oktober vervang. Sheinbaum, ʼn gewese energiewetenskaplike, het kontinuïteit belowe en sê sy sal voortbou op die vordering wat Obrador gemaak het.