Shangula reageer op tenderkritiek van dr. Ndume

Die Namibiese gesondheidsminister het sy reaksie gegee op die internasionaal-bekroonde Namibiese oogarts, dr. Helena Ndume se mening oor die oorsaak van die lang waglys by oogklinieke. Die Windhoek Sentrale Hospitaal se oogkliniek het tans sowat 1 300 mense op sy waglys vir katarak-operasies. Dr. Ndume sê die lang waglys kon iets van die verlede gewees het, sou die regering die broodnodige voorrade direk van die vervaardiger gekoop het. Sy sê ‘n ooglens kos 180 Namibiese dollar, maar die middelmanne wat tender, vra 600 dollar per lens. Gesondheidsminister dr. Kalumbi Shangula, sê aan Kosmos 94.1 daar is ‘n algemene tekort aan mediese voorrade, maar aankope word bespoedig.