Selfdegeslag-huwelike – uitspraak in 2022

Uitspraak van drie Namibiese Hoërhofregters wat die taak het om te besluit of die Namibiese Grondwet selfdegeslag-huwelike, wat in die buiteland tussen Namibiërs en hul buitelandse eggenote bevestig word, wettig is, is voorbehou en sal op 20 Januarie volgende jaar gelewer word. Regters Esi Schimming-Chase, Hannelie Prinsloo en Orben Sibeya, het die argumente van Senior Advokaat Raymond Heathcote, SC, namens twee selfdegeslag-egpare aangehoor. Die verhoor is deur ‘n groep mense bygewoon wat die Minister van Binnelandse Sake, Dr. Albert Kawana ingesluit het. Die aansoekers is die Duitse burger Anita Seiler-Lilles en haar Namibiese vrou, Anette, en die Suid-Afrikaner Matsobane Digashu en sy Namibiese man, Johann Potgieter. Heathcote het aangevoer die Grondwet verdra nie net Namibië diversiteit nie, maar vier dit ook, en het die hof dringend versoek om ten gunste van die aansoekers te beslis.