Seksuele geweld deel van Russiese aanslag

Die Oekraïne het weer vir meer wapens by Westerse lande gevra om hom te help om die beleg van Mariupol te beëindig en ‘n verwagte Russiese offensief in die ooste af te weer. Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, sê dat Rusland moontlik chemiese wapens in die Donbas-streek kan gebruik. Die eerste leier van die Europese Unie wat die Russiese President Vladimir Putin persoonlik ontmoet het sedert hy ‘n “spesiale operasie” van stapel gestuur het, die Oostenrykse kanselier Karl Nehammer, het na samesprekings in Moskou gesê dat ‘n offensief in die ooste “voorberei word op ‘n massiewe skaal”. Maar, die vertrek van Russiese magte uit die buitewyke van Kiëf het ontstellende bewerings van oorlogsmisdade, insluitend teregstellings en die verkragting van burgerlikes, aan die lig gebring. Moskou maak die bewerings af as Oekraïnse en Westerse propaganda. Die VN se Veiligheidsraad het aangehoor dat die aantygings ondersoek moet word maar dat daar toenemende berigte is van verkragting en seksuele geweld deur Russiese soldate.