Scott Morrison is buiteperd in volgende jaar se verkiesing

Australië se eerste minister, Scott Morrison, sê dit is redelik duidelik hy is die buiteperd in volgende jaar se federale verkiesing. Volgens die jongste Newspoll-peiling deur The Australian, het die persentasie Australiërs wat tevrede met Morrison se werk, met twee punte tot 44 persent gesak. Dié wat ontevrede is met hul eerste minister, het met twee punte tot 52 persent gestyg. Die opposisieleier, Anthony Albenese, se gewildheid het ook gedaal. Morrison het aan media gesê hy is nietemin opgewonde om ná bykans vier maande van inperking en kwarantyn weer stemme te kan werf.