Schiefer se gemsboksaak tot 25 Januarie uitgestel
Leon Schiefer, inwoner van Walvisbaai het reeds Maandag in die hof op Maltahöhe verskyn op klagte van stropery nadat hy en drie ander gevang is in die Namib Naukluft Park. Hulle het na bewering nege gemsbokke gestroop. Volgens die polisie het die 49-jarige Schiefer ‘n bakkie gehuur, die diere met die voertuig ingejaag, hulle geskiet en gelaai. Twee verdagtes het gevlug na hulle op heterdaad betrap is en is nog soek. Schiefer het saam met medebeskuldigde Richard Gurirab, 32, verskyn. Assistent-landdros Evelyn Stephanus het die saak tot 25 Januarie uitgestel vir regsverteenwoordiging. Die twee bly in aanhouding. Daar is steeds geen teken van die twee ander verdagtes wat van die toneel gevlug het nie.