SAUM sê daar’s geen waarborge met uraanontginning in Suide nie

Divan Opperman, die voorsitter van Stampriet Aquifer Uranium Mining het gereageer op berigte oor Uranium One se eksplorasie vir uraan naby Leonardville. In ‘n verklaring sê Opperman dat tot dusver is sowat 600 eksplorasieboorgate vir uraan in die Stampriet-bekken geboor en twee uraan ertsliggame is ontdek. Die water in hierdie akwifer word ook deur gemeenskappe benut. Opperman het weer beklemtoon dat Uranium One steeds net eksplorasiewerk doen en ‘n klaringsertifikaat moet nog bekom word na ‘n impakstudie gedoen is. Hy sê die komitee ondersteun enige ekonomiese vordering vir die betrokke gemeenskappe maar, hy het kommer oor die veiligheid van die enigste varswaterbron in ‘n gebied van meer as 63 000 vierkante kilometer, uitgespreek. Grondeienaars en gemeenskapslede vrees dat die grondwater besoedel kan word deur uraan,  en radioaktiewe afvalprodukte. Hy voeg by dat daar geen waarborg is dat daar nie besoedeling sal voorkom met die in situ-logingsproses wat beplan word nie.