Sasol wil tot R1 miljard belê in ‘groen’ projekte

Die Suid-Afrikaanse energie-reus, Sasol, sê hy gaan vanjaar tussen 500 miljoen en 1 miljard Suid-Afrikaanse rand belê in projekte om sy omgewingsprestasie te verbeter. Die grootste deel van die hervormingskapitaal sal gebruik word om proses-veranderinge aan te bring, veral by Sasol se aanleg in Secunda in Mpumalanga. Hierdie aanleg word beskou as een van die grootste vrystellers van koolstof in die wêreld. Die uitvoerende hoof, Fleetwood Grobler, sê hulle werk ook aan gasvoorsieningsopsies vir die toekoms. Dit sluit in die moontlike integrasie van ingevoerde vloeibare gas deur Maputo in Mosambiek.