Sanef boos oor aanvalle op media deur Zuma-ondersteuners

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum sê hy is woedend oor die onbeskaamde fisieke en verbale mishandeling van joernaliste deur ondersteuners van oud-president Jacob Zuma buite sy huis by Nkandla in KwaZulu-Natal. Die SABC-joernalis Samkele Maseko is gister tydens ‘n regstreekse uitsending fisies deur een van die ondersteuners aangeval. Zuma se oudste seun, Edward, het ook gedreig om een van die mediavoertuie wat buite Nkandla geparkeer was, aan die brand te steek. Sanef sê die optrede van die Zuma-ondersteuners sonder dat daar teen hulle opgetree word, is sprekend van die klimaat wat geskep is vir sulke aanvalle sonder enige gevolge.