Transnet-saak teen Molefe, Singh weer uitgestel

Die Palm Ridge gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Ekurhuleni het die strafsaak teen verskeie hoëprofiel-sakelui en voormalige bestuurders van staatsbeheerde maatskappye tot 30 November uitgestel. Die beskuldigdes word verbind met Transnet se transaksie vir 1 064 lokomotiewe in 2015. Die Nasionale Vervolgingsgesag het die meer as 50 aanklagte teen Regiments Capital, die eienaars Niven Pillay en Litha Nyhonyha, en hulle voormalige vennoot, Eric Wood, van Trillian Capital Partners uiteengesit. Pillay, Nyhonyha en Wood word saam met die voormalige Transnet-grootbase Brian Molefe, Anoj Singh, Siyabonga Gama, Phetolo Ramosebudi en Garry Pita vervolg.