SA toeriste stroom na Namibië ondanks verwarring oor grensposte

Ondanks verwarring wat in die toerisme-sektor heers oor watter grensposte tussen Suid-Afrika en Namibië heropen het, stroom Suid-Afrikaanse toeriste Namibië binne. Volgens die departement van binnelandse sake in Suid-Afrika is alle oorblywende grensposte vir internasionale reis heropen. Die oorblywende grensposte tussen Suid-Afrika en Namibië is Onseepkans, Rietfontein, Mata Mata en Sendelingsdrift. Sendelingsdrift is egter nie gereed vir onmiddellike heropening nie weens die watervlakke van die rivier en die vlot wat gebruik word. SANParke het aan Namibiese toerisme-rolspelers gesê Mata Mata en Rietfontein is steeds toe. Die woordvoerder van die Namibiese ministerie van binnelandse sake, Margaret Kalo sê aan Kosmos 94.1 Nuus Mata Mata en Rietfontein is oop, maar ‘n mediaverklaring oor die Namibiese grensposte sal môre uitreik word. ‘n Namibiese toergids, Josepah Kafunda sê hy sien uit na meer Suid-Afrikaanse toeriste in Namibië.