SA plaaslike verkiesings nie uitgestel

Die Suid-Afrikaanse plaaslike verkiesing moet tussen 27 Oktober en 1 November plaasvind. Só het die konstitusionele hof laat vanmiddag beslis. Dít volg nadat die Verkiesingskommissie ’n aansoek in dié hof gebring het dat die verkiesing uitgestel moet word. Oud-adjunkhoofregter Dikgang Moseneke het ná ’n ondersoek namens die kommissie bevind die verkiesing sal nie in die huidige pandemie-omstandighede vry, regverdig en veilig kan wees nie. Hy het voorgestel die verkiesing word uitgestel, maar tot nie later nie as einde Februarie 2022. Omdat die Grondwet nie voorsiening maak vir die uitstel van verkiesings nie, het die kommissie besluit om die konstitusionele hof se leiding te vra.