SA man op Hosea Kutako-lughawe met kokaïen in sy bagasie betrap

‘n Suid-Afrikaanse man verskyn vandag in die hof nadat hy op die Hosea Kutako Internasionale Lughawe buite Windhoek glo met kokaïen ter waarde van 5,135  miljoen Namibiese dollar in sy bagasie betrap is. Volgens die Namibiese polisie het doeanebeamptes deur die skandeerder die versteekte dwelms in sy bagasie gesien. Die verdagte is versoek om sy bagasie oop te maak en die beamptes het wit pakkies kokaïenpoeier van 10,27 kilogram gevind. Die doeanebeamptes het Nampol se dwelm- en honde-eenheid in kennis gestel. Die kokaïen is in die teenwoordigheid van die verdagte en amptenare bevestig en geweeg. Die verdagte is ‘n 44-jarige Suid-Afrikaanse man wat van Brasilië af gekom het om dwelms na bewering by Okahandja af te lewer.