SA Krieket ondersteun uitstel van Indiese Premierliga

Krieket Suid-Afrika sê hulle ondersteun die uitstel van die Indiese Premierliga nadat Covid-19 gevalle in Indië die hoogte ingeskiet het. Daar is nog ongeveer 30 wedstryde wat in die 2021-seisoen gespeel moet word. KSA sê in ‘n verklaring daar is reeds kontak gemaak met al die betrokke spanne om die spoedige terugkeer van Suid-Afrikaanse spelers en ondersteuningspersoneel na die land te bewerkstellig. Die liggaam voeg by dat diegene wat na Suid-Afrika terugkeer, tuis in kwarantyn sal wees in ooreenstemming met die huidige aanbevelings van die Wêreldgesondheidsorganisasie.