SA-egpaar wat NDF afneem verskyn weer op 6 Julie

‘n Suid-Afrikaanse egpaar wat verlede week Donderdag in hegtenis geneem is nadat hulle na bewering gevind is terwyl hulle militêre toerusting in die Grootfontein Weermagbasis fotografeer, sal op 6 Julie vanjaar na die hof terugkeer vir pleit en verhoor. Die twee beskuldigdes, die 60-jarige Walter Dalton en sy 58-jarige vrou Cornelia, het Dinsdag hul tweede hofverskyning voor Grootfontein-landdros, Murray Shikongo, gemaak. Na bewering het die twee Namibië op 25 April vanjaar binnegekom, en dit is onbekend waarheen hulle in die land gereis het voor hul arrestasie verlede Donderdag. Volgens NamPol se misdaadondersoek koördineerder in die Otjozondjupa-streek, adjunkkommissaris Naukalemo Andreas, is dit onbekend hoe die twee daarin geslaag het om die Grootfontein militêre basis met ‘n voertuig binne te gaan en ook wie hulle gemagtig het om foto’s binne die grootste militêre basis in die land te neem.