S-Afrikaners wat weermagbasis afneem, verskyn weer

Die Suid-Afrikaanse egpaar wat op 9 Junie gearresteer is nadat hulle na bewering gevang is terwyl hulle militêre toerusting in die Grootfontein Weermagbasis fotografeer, keer vandag terug na die Grootfontein-landdroshof vir pleit en verhoor. Die twee beskuldigdes, die 60-jarige Walter Dalton en sy 58-jarige vrou Cornelia, het 14 Junie hul tweede hofverskyning voor Grootfontein-landdros, Murray Shikongo, gemaak. Na bewering het die twee Namibië op 25 April vanjaar binnegekom, en dit is onbekend waarheen hulle in die land gereis het voor hul arrestasie. Volgens NamPol se misdaadondersoek koördineerder in die Otjozondjupa-streek, adjunkkommissaris Naukalemo Andreas, is dit onbekend hoe die twee daarin geslaag het om die Grootfontein militêre basis met ‘n voertuig binne te gaan en ook wie hulle gemagtig het om foto’s binne die grootste militêre basis in die land te neem.