Rwanda werf onderwysers van Zimbabwe

Rwanda het begin met ‘n reuse-werwing van onderwysers uit Zimbabwe nadat die twee lande vroeg vanjaar ‘n ooreenkoms onderteken het waarvolgens Kigali onderwysers van Zimbabwe sal huur om ‘n vaardigheidsgaping te dek. Volgens ’n staatsamptenaar in Harare is 491 Zimbabwiese onderwysers op die kortlys vir onderhoude wat in die volgende paar dae gevoer sal word. Zimbabwe het duisende gekwalifiseerde onderwysers wat nie in sy onderwysstelsel opgeneem kan word nie. Die land het ooreenkomste met sommige Afrika-lande aangegaan om arbeid uit te voer. Die land het ‘n werkloosheidsyfer van meer as 80 persent as gevolg van jare se ekonomiese regressie en het ooreenkomste met lande soos Suid-Soedan onderhandel om van sy menigte werklose universiteits-gegradueerdes uit te voer. Eddie Cross, ‘n ekonoom in Zimbabwe, sê aan Kosmos 94.1 Nuus die hele staatsdienssektor is ‘n uitdaging.