Russiese weermag opdrag gegee om uit Kherson te onttrek

Die Russiese regering het dié land se soldate opdrag gegee om die Oekraïnse stad Kherson te verlaat en sê hy kan nie langer voorrade aan die stad voorsien nie. Dit is die enigste streekshoofstad wat Rusland sedert sy inval in Februarie kon oorneem. Die besluit kom terwyl Oekraïnse magte nader aan die stad beweeg. Die Kherson-streek was een van vier Oekraïnse gebiede wat Moskou geannekseer en in September amptelik as deel van die Russiese Federasie verklaar het. Kenners meen dit is ‘n aansienlike terugslag terwyl Rusland ‘n teenaanslag deur Oekraïne in die gesig staar. Terwyl die stap van ‘n militêre oogpunt ‘n goeie een is, is dit uit ‘n politieke oogpunt baie sleg vir President Vladimir Putin.