Russe skiet waarskuwingskote op Britse Koninklike Vlootskip

‘n Russiese oorlogskip het waarskuwingskote na ‘n torpedo-jaer van die Britse Koninklike Vloot gevuur nadat dit Rusland se gebiedswaters in die Swartsee binnegevaar het. Internasionale media berig die Russiese verdedigingsministerie sê dat die skote afgevuur is deur ‘n Russiese boot wat die grens patrolleer, terwyl ‘n SU-24-straalvegter talle bomme in die Defender se pad afgegooi het. Dit het die Britse vaartuig laat omdraai. Vandag se voorval het aan die kus van Kaap Fiolent in die Krim plaasgevind wat Rusland in 2014 van die Oekraïne geannekseer het. Die ministerie sê Defender was tot drie kilometer binne sy gebied.