Rusland stel verbod op Facebook in

Facebook het skerp gereageer op ‘n verbod op sy platforms wat Vrydag in Rusland ingestel is te midde van die voortslepende oorlog in die Oekraïne. Rusland se kommunikasiereguleerder sê die verbod is ‘n reaksie op beperkings wat op media in die land geplaas is. Die reguleerder voeg by daar was 26 gevalle van “diskriminasie” teen Russiese media deur Facebook sedert Oktober 2020. Daar was ook berigte dat die gebruik van Twitter Vrydagaand deur die Russiese reguleerder, Roskomnadzor, beperk is. Facebook se president van globale aangeleenthede, Nick Clegg, sê miljoene gewone Russe is nou afgesny van betroubare inligting. Alhoewel die gebruik daarvan beperk is, is Facebook nie heeltemal in die land geblokkeer nie. Russiese media het Vrydag die reguleerder aangehaal en gesê Twitter is beperk na aanleiding van ‘n versoek deur die aanklaer-generaal vanaf 24 Februarie, die dag van die inval in die Oekraïne.