Rusland ruil blykbaar kos vir wapens in Noord-Korea

Rusland stuur volgens berigte ‘n afvaardiging na Noord-Korea om kos aan te bied in ruil vir wapens. Dit is volgens John Kirby, woordvoerder van die Amerikaanse nasionale veiligheid. Hy sê enige wapentransaksie tussen Noord-Korea en Rusland sal die VN-Veiligheidsraad se resolusies oortree. Die veiligheidswoordvoerder het gesê die VSA hou die situasie, en die beweerde transaksie, noukeurig dop. Noord-Korea is een van die armste lande ter wêreld en het al dekades lank chroniese voedseltekorte ervaar, insluitend ‘n verwoestende hongersnood in die middel tot laat 1990’s. Kenners het in Februarie gewaarsku dat die land ‘n kritieke voedselkrisis in die gesig staar weens ‘n aansienlike daling in produksie – vererger deur swak weer, streng grensbeheer en die impak van internasionale sanksies. Satellietbeelde van Suid-Koreaanse owerhede toon dat die Noorde 180 000 ton minder voedsel in 2022 as in 2021 geproduseer het.