Rusland, Oekraïne vergader die week in Turkye

Die leier van die Oekraïne se separatistiese Luhansk-streek Igor Plotnitsky sê ‘n stemming kan in die gebied gehou word om deel van Rusland te word. Intussen sê die land se militêre intelligensiehoof Rusland probeer die Oekraïne in twee verdeel om ‘n Moskou-beheerde streek te skep. Russiese owerhede het ook gesê die militêre operasie sal nou in Donetsk gefokus word. Daar is ook twee humanitêre korridors oopgestel, een uit die oorlog-geteisterde Mariupol waar 100 000 mense nog vasgekeer is. Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, sê sy land is bereid om in te stem om ‘n neutrale status te handhaaf wanneer hulle môre en oormôre in Istanbul, Turkye met Rusland onderhandel. Hy het aan Russiese joernaliste gesê dit sal afhang van waarborge deur derde partye, asook ‘n referendum in sy land. Die Russiese regering het die land se media vooraf gewaarsku om nie verslag te doen oor Zelensky se video-oproep van 90-minute met onafhanklike Russiese media waarin hy deurentyd Russies gepraat het nie.