Rowers val Italiaanse paartjie in Swakop aan

Nog ‘n aanval op buitelandse toeriste is aangemeld, hierdie keer in Swakopmund. Die dorp se polisie sê twee middeljarige Italiaanse paartjies het in Libertina Amadhilastraat na hul hotel gestap teen ongeveer 20 na 8 gisteraand toe ‘n swart Honda Fit net voor die hotel by hulle stop. Drie mans het uit die sedan gespring, ‘n 61-jarige vrou gestamp en haar beursie gevat, voordat hulle haar 56-jarige man in die voertuig geboender en weggejaag het terwyl die hotel se sekuriteitswag aangehardloop gekom het. Die voertuig, wat vals nommerplate gehad het, is later in Mondesa gesien waar die man afgelaai is. Hy het sigbare beserings aan sy voorkop, linkeroog en linkerarm opgedoen, maar is stabiel. Die vrou was ongedeerd. Die aanvallers het weggekom met 800 Namibiese dollar, 150 euros, kredietkaarte en die paartjie se identiteitskaarte, sowel as Nikon en Canon kamera’s, twee selfone, ‘n paar brille, ‘n horlosie en ‘n goue ring ter waarde van sowat 95 000 dollar. Die polisie ondersoek ‘n saak van roof met verswarende omstandighede, aanranding met die opset om ernstig te beseer en ontvoering. Geen van die gesteelde items is tot dusver teruggevind nie en die ondersoek duur voort.