Rower gevang oor bont onderbroek, ‘n jaar later

‘n Bont onderbroek het die polisie in New York toegelaat om ‘n rower meer as ‘n jaar later in hegtenis te neem. Die roof, op 14 September verlede jaar, was by ‘n tabakwinkel in Queens. Drie gemaskerde mans het uit ‘n Mazda geklim en die winkel binnegegaan en een se broek het laag gehang. ‘n Groot letter R en 1990 was sigbaar op die helder onderbroek. ‘n Jaar later het ‘n lid van die publiek die polisie geskakel en gesê rowers het gesteelde goedere by ‘n ander winkel, ook in Queens, probeer verkoop. Geslotekring-televisie toon toe weer die bont onderbroek met die R en 1990 maar die keer, was hy nie gemasker nie. En toe is die koeël deur die kerk.