Rooibos-toerisme herleef

Toerisme as gevolg van Rooibostee help om die land se toerismebedryf te laat herleef ná ‘n onlangse oplewing in die gewildheid van die tee. Die Suid-Afrikaanse Rooibosraad sê meer plaaslike en internasionale reisigers wil leer oor die geskiedenis van Rooibos, asook hoe dit vanaf die plaas na die koppie vervaardig word en hoe die verskillende variëteite smaak. Rooibos word net in die Cederberg-streek in die Wes-Kaap vervaardig. ‘n Woordvoerder vir die raad, Adele du Toit, sê daar is opnuut belangstelling in Rooibos regoor die wêreld nadat dit erkenning en beskerming van die Europese Unie ontvang het as ‘n produk wat van ‘n sekere streek afkomstig is.