Rentekoerse het amper verdubbel – en dis nie klaar nie

Huishoudings en besighede word gemaan om in 2023 omsigtig met finansiële bronne te werk omdat rentekoerse steeds sal styg, al is dit met kleiner spronge. Rentekoerse het tydens Covid rekord laagtepunte bereik en het in November verlede jaar begin styg. Die Bank van Namibië het die repokoers in November 2021 onveranderd op 3,75 persent gehou. In Februarie vanjaar het die sentrale bank die repokoers met 25 basispunte na 4 persent verhoog. Dit is weer in April met 25 basispunte na 4,25 persent verhoog en toe met 50 basispunte in Junie na 4,75 persent. Soos inflasie toegeneem het, is die koers in Augustus met 75 basispunte na 5,5 persent opgestoot en toe, in Oktober, is dit weer met 75 basispunte verhoog na 6,25 persent. Die laaste verhoging van die jaar was 50 basispunte in November met die terugkoopkoers wat tans op 6,75 persent staan, 25 basispunte agter die Suid-Afrikaanse Reserwebank. ‘n Verhoging om die twee koerse op een vlak te bring word vroeg volgende jaar verwag.