Renosterstropery hoog op Cites se agenda

Die oorlewing van Afrika se renosters is hoog op die agenda van die 19de vergadering van die Cites-vergadering wat in November 2022 in Panama gehou word. ‘n Onlangse verslag deur die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur, dui aan dat stropery van renosters tussen 2018 en 2021 met 1,6 persent afgeneem het. Ten spyte hiervan bly die stropery en onwettige handel in renosters ‘n bekommernis in Afrika – daar is tussen 2018 en 2021, 2 707 renosters op die vasteland gestroop, 90 persent van hulle in Suid-Afrika. Terwyl daar effe verligting was in 2020 met inperkings, het handel en stropery skerp gestyg in 2021. Namibië het 44 renosters in 2021 verloor, 42 in 2020, 57 in 2019, 83 in 2018, en 55 in 2017. Tot dusver is 48 renosters vanjaar plaaslik gestroop met die groter meerderheid, swartrenosters. Maar die unie sê nie alles is verlore nie. Stropery het in 2015 ‘n hoogtepunt bereik met ‘n koers van 5,3 persent en het sedertdien, effe afgeneem.