Renosterhoringsmokkelaar sterf

Die vermeende renosterhoringsmokkelaar Pendapala Paulus Herman is dood. Hy het in aanhouding siek geword en is volgens die Namibiese polisie na die Omuthiya-staatshospitaal en later na die Onandjokwe Lutherse Hospitaal oorgeplaas waar hy gesterf het. Die 48-jarige Herman word saam met Petrus Iipinge, Ludwig Nangolo en Angolees Fortunato José Queta, daarvan beskuldig dat hulle in 2019 33 renosterhorings uit ‘n instapkluis in ‘n huis op Outjo gesteel het. Dit is afkomstig van renosters wat op ‘n lodge langs die Etosha Nasionale Park onthoring is. Herman is daarna op borgtog vrygelaat en weer op 13 Maart saam met ‘n pastoor, Alfons Tjikuru, en polisiebeampte Michael Muronga van Otjiwarongo glo in besit van ‘n renosterhoring in hegtenis geneem. Intussen het die Uitvoerende Hoof van die Save the Rhino Trust, Simson Uri-Khob, aan Kosmos 94.1 Nuus gesê renosterstropery in die Kunenestreek het drasties afgeneem met die laaste voorval verlede jaar. Hy skryf dit toe aan die baie voete van renosterbewaarders op die grond.