Rehoboth-burgemeester vra vir hulp by veldbrand

Die veldbrande in die suide van Namibië woed steeds voort. Volgens Namibian Marshal Ranger Sean Naude het hulle tot in die vroeë oggendure die vlamme vanaf twee kante bestry in die veldbrand tussen Mariental en Maltahöhe in die Hardap-streek. Hy sê die meeste veldbrande in die omgewing, ook by Dassiesfontein, is onder beheer, maar in die gebied by Nababis brand dit nog erg. Intussen het Rehoboth se burgemeester Amanda Groenewaldt ook dringende hulp gevra vir brandstof en mense om die brand te bestry. Die veldbrande het weiding vernietig en boere moet hul vee na veiligheid verskuif.