Regter gee uitstel vir Tamson Hatuikulipi se skikking oor bou-skuld

Regter Collins Parker het die saak tussen die Fishrot-beskuldigde Tamson Hatuikulipi en sy vrou Ndapandula om ‘n skikking met L.I.T. Construction te bereik, tot 26 Julie vir ‘n statusverhoor uitgestel om die skikkingsooreenkoms te finaliseer. Die partye sukkel reeds ‘n geruime tyd om die ooreenkoms te finaliseer. Die saak handel oor boumateriaal. Die egpaar het op 5 November 2019, drie weke voor Tamson gearresteer is in verband met Fishrot, ‘n ooreenkoms met die konstruksiemaatskappy aangegaan. Hulle het 646 188 Namibiese dollar se boumateriaal aangekoop en laat aflewer by hul erf in Ganas-straat in Auasblick. Dit is nie betaal nie en die maatskappy het die egpaar saam met JTH Trading, wat borg geteken het vir die Hatuikulipi’s, hof toe gesleep.